Monday, 15 August 2011

Die sage van die wasmasjien...

Ek het 'n besige naweek gehad. Vroeër die week het ons wasmasjien besluit dis sulke tyd – die ding het soos 'n steeks donkie eenvoudig geweier om koue water in te tap. Ek het mos sagte kompûter-handjies en is nou nie die tipe ou wat handig is met sulke goed nie, maar nadat ek gehoor het wat dit sou kos om iemand uit te kry ($100 call-out + parts + labour teen $16-50 / 10 min) besluit ek:



1) ek het my roeping gemis, en
2) dit kan sekerlik nie so moeilik wees nie…



Ek spring toe op Google en leer alles wat ek kan van 'n Whirlpool top loader. So, gewapen met my nuutgevonde kennis, 'n skroewedraaier in die een hand en 'n spanner in die ander hand, stap ek versigtig waskamer toe met instruksies vir Christa om my nié te volg nie en om die nooddienste te bel as ek nie binne 'n uur terug is nie.



Ek trek toe die masjien uit om agter in te kom en som die situasie in ‘n oogwink op. Dit lyk alles so eenvoudig. Té eenvoudig. Dit is stil om my. Iewers in die verte blaf daar 'n hond. Ek kyk... Daar is een groot metaal plaat en verder nie veel nie. Was daar maar 'n klomp boute en skroewe of levers en knoppe dan kon ek in alle erns begin trek of stoot of druk of draai het, maar daar was niks. Toe sê ek vir myself, "Self, hulle maak dit natuurlik so om die mense wat nie weet wat hulle doen nie, uit te hou. Maar jy is nie een van daardie mense nie." So toe trek ek my oë op skrefies en besluit om te fokus en nie lank nie of ek sien 'n klein, oënskynlik onbelangrike skroefie links bo in die hoek. Vir die onervare persoon lyk dit na 'n onbelangrike skroefie, maar die kenner wéét waarna hy kyk. Met al die konsentrasie wat ek kon inspan begin ek dit stadig en versigtig los skroef...



Met my oë nog steeds op skrefies, my lyf gelyktydig in drie onnatuurlike rigtings gedraai, my hande wat trek en druk en die spanners wat raas, gee die wasmasjien stadig die stryd oor en begin ek, soos ‘n spasmatiese chirurg, sy ingewande een vir een uithaal. Nie lank nie of ek sien die probleem. Die koue water wat die wasmasjien voer kom van die reënwater tenk, en dit het veroorsaak dat een van die filters verstop geraak het. Nou vra ek jou, met die spreekwoordelike trane in my spreekwoordelike blou oë, wie is nou so simpel om die filter so diep in die masjien weg te bêre dat net my voete uitsteek soos ek rek om daarby uit te kom!?! Lang storie kort, met ‘n gespook en 'n gespartel soos die Bokke teen Samoa, is die filter toe uit en skoongemaak. Maar toe begin die sports om die wasmasjien weer aanmekaar te kry sodat dit:



a) lyk soos 'n wasmasjien,
b) klink soos 'n wasmasjien,
c) was soos 'n wasmasjien
d) lede van die gesin of die hond nie aanval en verorber nie.



Na mooi praat en soms minder mooi praat (maar altyd darem binne die standaarde soos gestel vir Christelike huishoudings) het ek die ding toe aanmekaar gekry. In die proses moes ek die wit gedierte (teen hierdie tyd het ek besef hy het 'n siel van sy eie) twee keer oopmaak, elke keer na ek met 'n nare gevoel op my maag afkom op 'n part wat oorspronklik binne die masjien was, maar wat op daardie stadium nog lewensgroot buite gelê het soos 'n vis wat hyg na asem. Uiteindelik is daar geen parte wat meer rondlê nie en elke skroef of bout het ‘n plekkie gekry (hopelik die regte plekkie!), en die wit monster voor my LYK ten minste soos ‘n wasmasjien.



Nou vir die toets. Ek sit die muurprop in, skakel die krag aan, draai die groot knop (soos ek gesien het hoe Christa dit altyd doen), sit die masjien aan en,... NIKS! Nada! Zigalô! Aikôna wena! Nie 'n druppel water loop in nie! Toe praat ek wéér met die masjien, maar hierdie keer was my woordkeuse dalk ‘n bietjie meer liberaal. Al opsie wat ek toe het is om die groot wit gedrog wéér oop te maak sodat ek opnuut (met 'n intelligente uitdrukking op my gesig natuurlik) na al die ingewikkelde parte kan kyk, soos wanneer jy siels-alleen in die Karoo langs die pad staan en kyk na die enjin met 'n vae hoop dat jy iets voor die hand liggend sal sien, soos 'n kabeltjie wat los hang of 'n pypie wat uit geglip het.



Gelukkig onthou ek hierdie keer om die kraan éérs toe te draai vóór ek die pyp losmaak, en toe tref dit my soos 'n slap vis tussen die oë. Die kraan was toe! Die kraan was TOE! HA! Vat so katvis! In my gretigheid om die wasmasjien te toets het ek skoon vergeet om die kraan weer oop te draai. Met hande wat in afwagting bewe, draai ek die kraan oop en druk weer die masjien se knoppie. Dadelik hoor ek ‘n klank soos die sang van 'n Engelekoor en my oë word tranerig van pure blydskap – die wasmasjien tap water in! Net daar gee ek my oorwinningskreed en begin ek die haka doen soos die All Blacks net van kan droom, terwyl die kinders in een rigting spat en die hond, stert tussen die bene en ore plat, in die ander rigting gaan skuiling soek.



Die dag is gered! My vrou is bly, die kinders kan met skoon klere skool toe gaan, ek het my hard-verdiende dollars gespaar en dit alles onder 60 minute! Om ‘n soortgelyke insident in die toekoms te vermy het ek toe maar ‘n tweede filtertjie gaan koop wat ek gister aan die kraan gesit het, want ten spyte van my sukses dink ek tog my sagte kompûter-handjies is nie gemaak vir wasmasjiene nie!

2 comments:

  1. Reinhardt, jou tipe word meer en meer skaars. Jy kan nie net jou gedagtes mooi op papier neerlê nie maar jy kan spel in Afrikaans ook! Besonders!

    Nie net dit nie! Jy weet ook hoe om daai skewe dubbelpunte en die 'kappies' op die letters te sit. Ek voorspel 'n boek in jou toekoms: "Wie's jou 'mate'? My avonture op die bandiet eiland".

    -Martin

    ReplyDelete
  2. Ag dankie Martin, ek waardeer jou vriendelike woorde! (ek sal die bedrag waarop ons ooreen gekom het vandag oorplaas...)
    Wat die spelling betref moet ek bieg, ek kry so bietjie hulp van 'n Afrikaanse spel-checker, maar moet vir niemand sê nie!
    -Reinhardt

    ReplyDelete