En so kom boetie toe die een Vrydagaand by my, groot oog en baie opgewonde. “Die juffrou het gesê ek kan ‘n stick insect kry!”
“O so?”
“Ja, ons het net ‘n vistenk nodig en ons het mos ‘n vistenk so ek kan een kry, né?”
“Seker ‘n akwarium?”
“Ja, ‘n akwarium. So kan ons een kry? Kan ons...?”
Ons het nie ‘n akwarium nie. Ons het wel iets wat ‘n goudvissie vir ‘n kort tydjie gehuisves het, maar die ding is so klein dat Frankenstein amper net vorentoe en agtertoe kon swem, van omdraai was daar nie sprake nie. Maar my opkomende entomoloog glo dit kwalifiseer as 'n geskikte habitat om ‘n stokinsek in aan te hou. Nou ek ken stokke en ek ken insekte, maar ek ken nie so lekker van die sogenaamde stokinsek nie. Gelukkig weet ek so ietsie van kompûters en Google en ons word toe vinnig kenners op die gebied van stokinsekte, asook die aanhouding daarvan. (Het julle geweet 'n mamma stokinsek kan baba stokkies kry sonder dat daar 'n pappa stokinsek iewers in die prentjie is? Ek het nogal gehoop ek sou hierdie stokinsek-oefening kon gebruik vir meer as een opvoedkundige doel, soos om te gesels oor die feite van die lewe, maar daarvoor sal dit nie goed werk nie...)
Blykbaar is dit nogal ‘n algemene ding hier vir die jongspan om sulke gediertes aan te hou. Soos ons, toe ons nog kinders was, met skoenbokse vol sywurms by die huis aangekom het en dan elke dag buurman se moerbeiboom betrek het vir blare om die honderde vretende wurms aan die gang te hou. Hier hou hulle stick insects aan en, glo dit of nie, kokkerotte. Later was ek verlig om te lees dat dit nie jou standaard "Parktown Prawn" kokkerot variëteit is wat jou huis so kan betrek en waarteen ek in 'n deurlopende oorlogstryd gewikkel is nie, maar as die ding se naam ‘kokkerot’ gespel word glo ek hy moet vrek. Ons bly dus by die stokinsek.
Blykbaar is dit nogal ‘n algemene ding hier vir die jongspan om sulke gediertes aan te hou. Soos ons, toe ons nog kinders was, met skoenbokse vol sywurms by die huis aangekom het en dan elke dag buurman se moerbeiboom betrek het vir blare om die honderde vretende wurms aan die gang te hou. Hier hou hulle stick insects aan en, glo dit of nie, kokkerotte. Later was ek verlig om te lees dat dit nie jou standaard "Parktown Prawn" kokkerot variëteit is wat jou huis so kan betrek en waarteen ek in 'n deurlopende oorlogstryd gewikkel is nie, maar as die ding se naam ‘kokkerot’ gespel word glo ek hy moet vrek. Ons bly dus by die stokinsek.
Dis hoe boetie se stokinsek gaan lyk... (Image from natgeotv.com.au) |
Ek dog toe voor ek groot stokinsek beloftes maak wat ek dalk nie kan hou nie, sou dit wys wees om eers die Minister van Finansies en Huishoudelike Sake te ken in die saak. Mamma sê toe solank boetie dit net nie in sy kop kry om eendag te wil opgradeer na ‘n harige spinnekop of grillerige slang nie is die saak reg.
Ons is oor die eerste hekkie, maar blykbaar MOET ons insek se kind Maandag kry of anders, so sê Miss Davies, is dit verby. Dit skep nou 'n probleem, want ‘n klein ronde visbakkie gaan nie die ding doen nie. Dit was maar ‘n hartseer affêre toe ek vir boetie probeer verduidelik dat ons mos nie wil hê stokkie moet dieselfde pad as goudvis loop nie, en buitendien het die bakkie nie ‘n deksel nie so dit sal nie lank wees voor hy (of sy, ek het geen idee hoe mens hulle uitken nie!) groener weivelde soek nie. Nee, voor ons ‘n stokkie kry moet ons eers ‘n huisie kry. Boeta is met lang krokodiltrane bed toe daardie aand maar ongelukkig is feite feite. Ek belowe hom toe ons sal ‘n plan maak om ‘n hok te bou, en kort voor lank stap ons weer by Bunnings in. Hout word gekoop, gaas word afgemeet en die manne maak planne. Ek het op die internet gesien mens kan die insekte by troeteldierwinkels koop, en daar is blykbaar ook ‘n knaap wat stokinsekeiers verkoop in pakkies van tien, so ons sal darem vir hom en kleinsus iewers stokinsekte kan kry sodra ons reg is.
Na Bunnings het ons by die troeteldierwinkel 'n draai gaan maak want toe Ousus hoor van visbakke en stokinsekte dring sy daarop aan dat ons die leë visbak vul met nog 'n vis. Ek gee toe, met die gedagte dat ons huis sterk op pad is om soos Currumbin Wildlife Sanctuary te begin lyk. By die winkel aangekom word elke vis noukeurig bestudeer, evalueer en met mekaar vergelyk. Boetie kies intussen koers om die goggas te soek en kort voor lank is sy geliefde stokinsek skoon vergete toe hy verlief raak op ‘n "bearded dragon", so ‘n oulike akkedis-affêre wat blykbaar ook die oulikste karakter het.
Hello? (Image from www.petsintouch.com) |
"Nee, beslis nie!" was my antwoord op die onvermydelike vraag, "daarvoor het ons ook nie ‘n hok nie en buitendien kom ons nou net van Bunnings af met voorraad om vir jou stokinsek ‘n huis te bou en om ‘n hok te koop met die akkedis is veels te duur en waar gaan jy vir hom goggas kry om te eet en ons sal eers vir mamma moet voorberei daarop en kom ons bly maar eers by die stokkie en sien hoe dit gaan en al daai goed". Dis hier waar ek sien boetie se brein begin oortyd werk soos hy planne beraam. Hy gaan ‘n klomp stok-eiers koop, die goed laat uitbroei en verkoop, en met al sy wins gaan hy dan ‘n akkedis kan koop, en vir akkedis ‘n hok. Ek herinner hom daaraan dat nie almal stokinsekte sal wil koop nie en boonop moet hy eers hoop al die eiers broei uit. Dis daar waar die mannetjie my verbaas met sy wysheid toe hy met ‘n glimlag antwoord, “don’t count your stick insects before they’re hatched”. Ek kon dit nie beter gesê het nie.
So dit is waar ons op die oomblik staan, ons het die goed gekoop om 'n hok te bou waarop enige selfrespekterende stokinsek baie trots sal wees, nou moet ons net daarmee begin. Ek het so gevoel hierdie gaan, soos al die ander "projekkies" wat ek nou al aangepak het, veel groter en interessanter te wees was wat ek verwag. Ek sal julle op hoogte hou soos en wanneer dit gebeur, hou net hierdie spasie dop...
Die nuutste lid van die gesin, ousus se rooiste fighterfish genaamd Fiesty. |
hi Reinhart
ReplyDeleteDankie vir jou mooi kommentaar op my blog oor my Affodil-gedig. Ek waardeer dit. Maak gerus weer 'n draai. Bly jy kon dit lees, al was dit laat! :)
Geluk met die nuutste lid van die gesin - ek het ene gehad op universiteit genaamd Vino (ek wonder hoekom!). Frakenstein was 'n gewigtige naam vir 'n goudvis - mal daaroor! Ek dink ek sal moet kom aanklop vir hond name wanneer ons 'n 4been gedierte in SA aanskaf.
ReplyDeleteSpesiaal vir Boete - ek hou styf duim vas jou stokgogga boerdery is 'n sukses en dat jy in 'n japtrap groot winste maak. Sien uit om te hoor wat volg!
Dankie Nadia, ek sal jou boodskap aan Boetie oordra :) Die hok-makery sal hopelik oor 'n week kan begin, intussen dink ons solank aan name vir julle brak...
ReplyDelete