Monday 22 August 2011

Die wawielwebspinnekop maak sy grillerige verskyning.

Ek het nou die dag ons liasseerkabinet oopgetrek en verwoed begin soek vir my huwelikskontrak. Voor julle begin stres, ek is nie van plan om 'n einde te maak aan my huwelik nie. Ek wou bloot kyk of ek iets sien wat dalk melding maak van spinnekoppe en my rol in die verwydering en/of vermorseling daarvan. Namate my soektog gevorder het, het my gemoed ligter begin raak en was daar 'n lied in my hart. Ek het net begin om 'n ou vergete voortrekker volkspeleliedjie te begin fluit toe dit gebeur. Die eerste noot was suiwer, die tweede het geklink soos een van daai fluitjies wat mens in die 2-Rand lucky packets kry. Ek was amper los, toe lees ek aan die onderkant, daar skuins bokant my handtekening, die woorde "...till death do us part". Daardie sin neem 'n totale nuwe dimensie aan as jy dit lees pas na jy vir meneer daar buite in sy web verras het!

Hoekom Australië nou kwansuis die kontinent moes wees waar die mees dodelikste kreature is weet ek nie. ‘n Ander vraag wat ek tot op hede ook nog nie kon antwoord nie is hoekom ‘n spinnekoppie so klein soos my pinkienael genoeg gif het om ‘n bees te pos, wanneer sy aandete sekerlik nie groter as hyself hoef te wees nie. Volgens my is dit mos totaal onnodig maar goed, ek is nie hier om te oordeel nie. Miskien sal ek eendag die antwoord op daardie vraag kry wanneer daardie laaste klousule in my kontrak tot vervulling kom. Maar hoe dit nou ook al sy ons is hier, en saam met ons, is "hulle".

Ek dink meneer se wetenskaplike naam is Demortus Eternitium Arachnaphobius Terribalius Horrendous, afgekort as DEATH. DEATH is 'n "orb weaver”, of soos ons hom in SA ken, ‘n wawielwebspinnekop. Die slim mense op die internet reken sy byt is "mildly painful" en dat hy eerder sal weg hol voor hy sal byt. My persoonlike opinie is dat die ou wat dom genoeg is om so 'n eksperiment te doen sekerlik nie sonder toesig in ‘n laboratorium vertrou kan word nie en hoegenaamd nie 'n betroubare bron kan wees nie. Ek kweek ook geen aspirasie om sy tesis reg of verkeerd te bewys nie. DEATH is nou nie wat jy sal noem klein nie - as hy sy lang, harerige, grillerige bene sou uitstrek is hy omtrent sewe sentimeter lank. Hy is nagtelike knaap (maak hom natuurlik net soveel meer onsigbaar vir die ongelukkige persoon wat rustig en onskuldig very stap) en maak elke aand sy verskyning op ons stoep.

Die een aand het ek hom dopgehou terwyl hy daar doenig was - hy spin 'n reguit draad van die huis se dak tot by die oorkantste heining, 'n afstand van sowat 4 meter, omtrent 57 keer verder as wat hy self lank is. Dit alleen is mos bewys dat hierdie ding met respek hanteer moet word! Hy spin dan 'n draad van die middelpunt vertikaal af na die grond om sodoende 'n "Y" te vorm en dan spin hy wawielbande omtrent 4 cm uitmekaar om die middelpunt. As dit klaar is spin hy drade tussen elke wawiel. Die uiteinde is 'n web van omtrent 70 cm in deursnee – net mooi lyn met jou gesig wanneer jy die aand laat van die garage na die huis stap. Hy wil seker naby wees om jou gesigsuitdrukking te sien wanneer jy in sy web vasloop, net om daarna soos 'n besetene agteruit te spring en rond en bont te begin klap om so gou moontlik ontslae te raak van die lid van die familie Arachnida wat sonder twyfel reg staan om enige oomblik sy “mildly painful” byt te lewer. Jy sal maar vinnig moet klap, want glo my die mannetjie is rats.

Ek het al 'n stokkie gevat en in sy web gegooi - die een oomblik sit hy kop onderstebo in die middel van die web en die volgende is hy op die stokkie besig om hom aan te val soos net 'n spinnekop kan! Na 'n rukkie kom hy agter dat dit nie 'n sappige mot is nie en gooi dan die stokkie dat dit daar trek - duidelik om sy gevoel van misnoeë oor te dra. Dan hol hy weer terug na die middel en draai kop na onder en wag vir die volgende slagoffer wat tot 'n vinnige einde sal kom.

Op hierdie stadium het ons 'n goeie verstandhouding. Bedags bly hy uit my pad en saans gun ek hom sy plekkie in die maanlig. Christa het eendag genoem dat hy nie meer daar sal wees wanneer ek van Brisbane af terugkom nie. Ek dink tog hy is veilig want ek wil nog sien hoe durf sy hom aan met 'n flits in die een hand en die blik Doom in die ander en drie gesiggies wat by die deur uitloer met groot afwagting om die skouspel te beleef. Ek weet ék sou dit nie waag nie!

Om af te sluit los ek julle met ‘n paar foto’tjies van DEATH in al sy agt-potige glorie, op ons stoep in Melbourne.




No comments:

Post a Comment