Wednesday 31 August 2011

Die spietkop van Glen Waverley

Ten tye van hierdie oorspronklike skrywe was ons 8 maande in Australië. Ons is nou al amper 4 jaar hier, maar ek leer nog amper elke dag iets nuut van die land, sy mense en reëls. Tydens die insident wat ek hier beskryf, het ons naby High Street Road gebly in Melbourne. Dis een van die groter paaie wat inloop stad toe. Vanuit High Street draai ons dan af in Glen Tower op pad na ons huis in Camden Court. Dis in Glen Tower waar daar gereeld 'n afgevaardigde van die verwelkomingskomitee van die Victoria Polisie sit, om welkom te heed aan die ongelukkige siele wat vanuit High Street Rd daar indraai tussen die ure 7:30vm en 9:00vm, weeksdae. Blykbaar mag jy dit nie doen nie.
Dit het ons nie rêrig gepla nie want teen die tyd dat Christa die kroos aflaai het en terug ry is dit gewoonlik al na 9 die oggend en is sy geregtig om daar in te draai.

Op pad skool toe sien sy hom soms daar geduldig sit en wag om sy prooi te vang. Dit het haar ‘n duidelike voorsprong bo die ander ongelukkige siele gegee. Sou sy dalk 'n paar minute vroeër klaar wees met die kinderoorhandigingseremonie, weet sy reeds dat hy daar sit en kan sy dan ‘n minder gevaarlike roete terug huis toe kies waar sy hopelik geen verkeersreëls sal verontagsaam nie.

So gebeur dit toe dat ek die een oggend bietjie later ingaan kantoor toe. Ek besluit toe om saam te ry sodat ek die aflaai-ritueel kan beskou – ek was nog altyd een vir goedkoop vermaak. Na elkeen van my spruite getas, ge-trui, ge-hoed, gegroet en uiteindelik gepos is klas toe, stel ons die kompas in die algemene rigting van Glen Waverley stasie en vertrek ons met ‘n lied in ons hart. Die gesprek is die kar beloop toe iets soos die volgende:


Christa: "Ek moet gou 'n draai loop, kom ons gaan net gou eers by die huis aan voor ons verder ry."

Reinhardt: "Dan sal ons die ompad moet ry want ons mag mos nog nie hier indraai nie."

Christa: "Nee wat, hy was mos nie vanoggend daar nie, kom ons skiet gou deur"

Reinhardt: "Ja goed, buitendien is dit nou al drie minute voor nege so ons kan seker maar gou…"



Reinhardt & Christa: "**********" [Nota deur redakteur: Hierdie gedeelte is gesensor aangesien dit as kru taal beskou word]


Toe sal daar nou mos wraggies twee van hulle wag om ons te verwelkom, met een van hulle wat vriendelik vir my wuif. Ek wou eers vriendelik terug waai en aanhou ry maar die klein stemmetjie van wysheid hier diep binne my stel toe voor dat ek liewer stop daar waar sy lang vinger vir my wys. Soos julle weet probeer ek altyd 'n subtiele lewenslessie of twee deurgee in my skrywe, so hier volg nou 'n lessie waarmee julle 'n soortgelyke situasie kan benader, sou dit die dag nodig wees.


Daar is vyf algemene benaderings, elkeen goed gedokumenteer, wat soms suksesvol, soms minder suksesvol ingespan kan word om so ‘n plofbare situasie te hanteer. Ek het nie die tyd om elke strategie in detail te beskryf nie, en wil ook nie gesien word as iemand wat noodwendig al die strategieë promoveer nie (ek het self nie gedink ek ken so ‘n groot woord nie!) maar sal almal noem dan kan julle dit in julle eie tyd verder navors soos julle goed dink. Die opsies soos ek dit sien, is as volg:

   - Vlug
   - Veg
   - Finansiële Aansporings
   - Pleit en Smeek
   - Speel die rol van 'n persoon met OIS (Oningeligte Immigrant Sindroom)



(kleinskrif: die skrywer waarborg nie dat enige van die opsies hierbo beskryf, wettig is of tot enige mate effektief is nie, ten spyte van wat gesê of geïmpliseer word, en beveel aan dat ‘n professionele opinie geraadpleeg word alvorens hierdie strategieë aangewend word.)


Elke opsie het natuurlik sy eie voor- en nadele. Die grootste nadeel van die eerste drie is natuurlik die ongemaklike gevoel wanneer die magistraat vir jou vra wat jy pleit. Dus beveel ek een van die laaste twee strategieë aan. Siende dat ek op daardie stadium nog net agt maande in die vreemde was het ek, sonder om te aarsel of twyfel, besluit die laaste opsie sal vir my die beste uitkoms bewerkstellig.


Stap een: Groet beleefd, en voeg aan die einde by "…, meneer." Dit behoort hom belangrik te laat voel en hy sal meer geneig wees om te luister. Vermy woorde soos "blerrie”, “spietkop”, “moer” en “simpel padreëls”. Moet ook niks sê van die mooi dag nie want dit sal jou net meer skuldig laat lyk - teen hierdie tyd weet hy die dag mag baie dinge vir jou wees, maar mooi is nie een van hulle nie.

Stap twee: Moenie begin verduidelik of hom probeer oortuig hoe onskuldig jy is nie. Die drang sal sterk wees, weet dit, maar jy moet dit ten alle koste weerstaan. Wat vir jou mag klink soos ‘n geldige verskoning sal vir hom klink soos verbale diarree. Dit moet vermy word. Wag eerbiedig en respekvol dat hy eerste praat. Hierdie sal ook ‘n goeie tyd wees om daai gesiggie op te sit wat jy laas gebruik het toe Dominee jou in sy appelkoosboom betrap het.

Stap drie: Antwoord elke vraag met die onskuld wat by jou gesiggie pas. Hou dit kort en tot die punt (sien stap twee). Dit is aanvaarbaar om soms sy vraag met 'n teen-vraag te beantwoord, byvoorbeeld: "Padteken? Nee? Oooooo! DAAAAI een wat so weggesteek staan?”, of “Rêrig? Nog nie nege-uur nie? Dit KANNIE wees nie!" Vir beter effek kan jy hier uiters verbaas en skepties kyk na die horlosie in die paneelbord voor jou en met jou vingernael op die glasie tik soos die vlieëniers in die flieks altyd maak as hulle hoog in die lug, in die middel van die oseaan agter kom dat die enjins ophou loop het. Moet net nóóit jammer sê nie. (Jy het mos niks verkeerd gedoen nie?) Dit kán egter effektief wees om die "jammer sê" taktiek te gebruik sou jy later besluit om tot die "Pleit en Smeek" strategie oor te gaan. As jy jou kaarte reg speel sal jy, soos ek, wegkom met 'n "Heed my warning, next time I won't be so lenient".

Stap vier: Hier word dit van jou verwag om dankie te sê en iets by te voeg van "… Sallie weer gebeerie, meneer." Onthou die “meneer” aan die einde (sien stap een) maar moet dit nie te dik aanplak nie. Kom eerder net weg voor hy dalk van plan sou verander. Vermy 'n wheel spin.


As julle hierdie vier stappe volg behoort julle enige ongemaklike spietkop-situasie te kan hanteer met julle eer ongeskonde, en hopelik sonder enige verkeerskaartjies. En onthou, as die bordjie sê 9:00, is dit 9:00 en nie 8:57 nie.

Nou ja my vriende, dis hier waar ek sal stop. In my volgende blog beoog ek om my gedagtes te deel rakende die ontleding van post-modernistiese filosofieë van kultuur in die samelewing binne die konteks van kapitalistiese hervorming, soos gesien uit die oogpunt van die immigrant. Tot dan, mag die voorspoed julle verveel!

1 comment:

  1. Eerlikwaar Reinhardt. Skryf 'n boek - verkieslik in Afrikaans. Ek gee jou my 'blessing' en offer ook my dienste as proef-leser.

    ReplyDelete