Tuesday, 13 December 2011

Die kaartjie en die trein

"Is jy OK?" vra die bekommerde antie langs wie ek neer geval het op die trein. Ek moes seker erg gelyk het want reël nommer een op die trein is jy praat nie met vreemdes nie. Klaarblyklik het sy nie kans gesien dat ek op die bankie langs haar inmekaar sak nie, so sy vra liewer. Ek het soos ‘n nat rot daar gaan sit, vooroor gebukkend en gehyg na asem. Vanaand sou die laaste Parent/Teacher Interview wees vir die jaar, hierdie keer vir Nadia wat klaar maak met haar Prep jaar en graad een toe skuif. Ek móés dus betyds wees, geen verskonings word aanvaar nie. Normaalweg vind ek dit relatief maklik om by sulke afsprakies te hou en hierdie keer sou geensins anders wees nie, was dit nie vir my huweliksherdenking wat binnekort gevier sou word nie. Laat ek verduidelik… 


Ek het vroeër besluit om die Minister van Finansies en Huishoudelike Sake te verras met ‘n aand se oorslaap in ‘n grênd hotel met ‘n lekker ete, afgerond met ‘n ballet vertoning - Swan Lake nogal (hiermee score 'n man mos 'n paar punte!) Ons kon dit nie rêrig bekostig nie maar plastiek is mos geduldig en dis immers al tien jaar wat sy met my uithou, so ek reken sy verdien 'n bietjie bederf. Die enigste ding wat so ‘n gesellige aand nog nodig sou hê is daardie spesiale kaartjie, en ek besluit toe om ‘n persoonlike een vir haar te laat druk - een met foto’s van ons troue voor op en ‘n persoonlike boodskappie binne in. Wanneer ek so ‘n kaartjie nodig het gaan maak ek altyd ‘n draai by moonpig.com.au (cool naam, ne?) dan help hulle my daarmee. Hierdie jaar het ek myself verbaas deur alles vroegtydig gereël te kry, maar daai klein stemmetjie van wysheid hier diep binne my praat toe iets van spoedpos, so ek besluit toe om die kaartjie spoedig te laat kom, net vir ingeval. Die goeie mense van Australia Post waarborg dan dat die kaartjie die volgende dag in my hande sou wees. 

Die volgende dag het gekom en gegaan en daar was niks. Na die tweede dag begin ek so effe kriewelrig raak en doen ek toe navraag, net om te hoor dat Australia Post blykbaar nie briewe by ons kantoor aflewer nie, ek moes dit na die posbus laat stuur het. So sien ek toe op die “online tracking” hoe my kaartjie spoedpos vanaf Sydney na Brisbane aangevlieg kom net om in Brisbane kort om te draai en met spoedpos weer terug te vlieg Sydney toe, “Return To Sender”. 

Ai tog! Ek besluit toe om maar nog ‘n bietjie geldjies te spandeer en die kaartjie te laat herdruk en weer spoedpos te stuur, dié keer na die posbus. So bel ek toe gou die antie by Moonpig om dit te reël en sy is vreeslik vriendelik en besorg en sê toe hulle sal weer een vir my druk en spoedpos aanstuur, gratis en verniet. “Al was dit my skuld?” vra ek versigtig. “Ja” sê sy, “net oorlat ons so oulik is sal ons dit vir jou doen”. Ek stem toe hartlik saam dat hulle baie oulik is en sê baie dankie dit sal gaaf wees en dis wonderlike diens en ek is tog so bly hulle help my en ek sal dan uitkyk vir hom en dankie weereens en okay baai. 

Dit was Woensdagoggend. Die tannie belowe my die kaartjie sou dan Donderdag in my besit wees, wat goed sou uitwerk aangesien ek vir die Vrydag verlof ingesit het. Die hele Donderdag kry ek amper nie gewerk nie want elke vyf minute moet ek net gou weer kyk wat sê die “online tracking”. Weer sien ek hoe kom die kaartjie spoedig aangevlieg vanaf Sydney na Brisbane en toe raak hy iewers in 'n holding pattern vasgevang met 'n status van "in transit" by die "Brisbane CDC" (waar dit ook al dit mag wees). Die hele dag sit hy daar. Ek het naderhand effe ongeduldig begin raak want dis my laaste kans maar “in transit” bly dit sê. 

Ek besluit toe maar ek sou op pad stasie toe by die poskantoor aan gaan om te kyk - dalk, net dalk, is die kaartjie daar, indien nie is dit maar so dan moet dit later oorhandig word. Die Gold Coast trein vertrek stiptelik om 16:23 vanaf Central Station. Ek skrik toe 16:05 wakker en pak inderhaas my tassie en hol. Ek besef toe ek sny dit bietjie fyn, want die poskantoor is ‘n blok en ‘n half van my kantoor en van daar af stap ek twee blokke en nog ‘n entjie om by die stasie uit te kom. Op die beste van tye sou dit ‘n uitdaging wees om betyds te wees in die tyd tot my beskikking, maar vir iemand soos ek wat bietjie dik is, nog meer so. Maar soos vroulief kan getuig was tydsbeplanning nog nooit een van my sterk punte nie. 

Die pos hokkie word toe oopgesluit met die klok wat 16:12 uitroep. Niks. “Ai tog!" sê ek toe sommer weer hardop vir myself. Ek wou net toesluit toe ek so klein, oënskynlik onbenullige notatjie sien. Ek dog eers dis net ‘n advertensie maar sien toe gelukkig dit noem iets van pos wat afgehaal moet word by een of ander toonbank. Die stres begin nou bou want die tyd raak min, maar ek kon mos nie nou opgee nie. Ek gryp die papiertjie en draf na die eerste beste poskantoor-antie wat agter ‘n toonbank werk hier naby die pos hokkies maar sy sê toe gits nee sy weet nie, probeer binne die poskantoor. 

Ek hol toe by die poskantoor in en neem my plekkie in die ry. Op hierdie stadium raak ‘n man mos bietjie bang om na die horlosie te kyk maar ek waag dit toe en hy noem vir my iets van 16:14. Jô-jô-jô, nou begin ek mos goed stres want daar’s net nege minute oor en ek mag daai trein nie mis nie en die stasie is nog ver, maar ek wil nou ook nie sonder die kaartjie loop nie. Daardie twee mensies agter die toonbank werk so rustig mens sou sweer hulle is op Afrika-tyd en hier binne my gaan dit maar woelig. 

Gelukkig was daar net een tannie voor my. Goeie oefening vir my eend-roetine “calm and unruffled on the surface but paddle like the devil underneath”. Nie lank nie of dis my beurt en word ek nader geroep. Die vriendelike oom gee my blou papiertjie een kyk en sê toe nee, ek is by die verkeerde plek. Stap daar by die deure uit, dan draai jy links en loop al met die gang af tot heel onder en daar draai jy weer links en iets van ‘n toonbank en iets van ‘n glas venster en klokkies en toe hoor ek niks meer nie want ek was al sterk op pad in die algemene rigting waar hy wys. 

Ek hol en soek en hol en soek, maar die enigste ding wat soos ‘n toonbank lyk is toe. Uiteindelik sien ek ‘n nota wat sê hierdie toonbank is net tot 12:30 oop, ná dit moet jy by ‘n ander toonbank aanklop. Jitte, hoeveel toonbanke hét hierdie plek?? Uiteindelik!! Daar sien ek toe die regte toonbank voor ‘n onbemande glas venster, met ‘n nota wat sê ek moet die klokkie druk vir aandag. Ek lê toe op daai klokkie like there’s no tomorrow en na wat soos ‘n ewigheid gevoel het kom daar ‘n krappie aan gewals om my te help. Ek wapper die papiertjie voor hom en hy verdwyn om die draai. Na ‘n minuut is hy terug met 'n spoedpos koevertjie in die hand. Gelukkig was daar 'n glas venster tussen ons anders het ek hom net daar gesoen! 

16:18. Die trein ry oor 5 minute. Ek dog so by myself daar is seker nie ‘n manier wat ek dit sou maak nie maar ek moes probeer. Ek gryp toe die kaartjie en begin hardloop en hardloop en hardloop en hyg en hardloop en nes ek begin voel “ek kan nie meer nie korporaal!” dan hardloop ek nog ‘n bietjie meer. Ek was nog nooit een vir hardloop nie - my vermoë in daardie afdeling is omtrent gelyk aan Amerika se vermoë om hulle nasionale skuld onder beheer te bring, maar ek het alles gegee wat ek gehad het om te gee. Van die poskantoor, oor Queenstraat, verby die eerste blok, toe oor Adelaidestraat, tweede blok verby, deur ‘n duikweg onder Annstraat en toe by ‘n stel roltrappe op, gooi toe ‘n slap regs, vleg tussen al die drentelende mense, deur die stasie hekkies, om die draai en by ‘n stel trappe af, so ses-ses op ‘n slag.

Ek sien die trein daar onder staan en wag, dreig om enige oomblik te begin ry. Wanneer die treindeure toemaak is daar altyd so klokkie wat lui en ‘n stem wat jou waarsku om terug te staan. So 10 meter van die deur begin daai klokkie lui en ek besef toe dis nou of nooit. Die stem wil my nog waarsku om terug te staan maar dis vir my net meer aansporing en ek kry 'n bo-natuurlike krag van iewers en spring by die naaste deur in nes dit begin toegaan, soos 007 dit nie kon doen nie. My broek knyp agter in die deure vas maar ek is in! Hygend en sopnat van die sweet en reën val ek toe neer in die eerste oop stoel wat ek kry, amper reg om dood te gaan. 

"Is jy OK?" vra die bekommerde antie langs wie ek gaan sit het, maar al waaraan ek kan dink is ek het die kaartjie en ek is op die trein, en op hierdie stadium is dit al wat saakmaak. “Ja dankie tannie, nóú is ek OK…”


Ek en my pragtige bruid.

Die aand het goed begin...

'n Mooi aand in 'n mooi stad met 'n mooi vrou!

3 comments:

  1. En ek glo jou aande vir ten minste 'n week daarna het fantasties ge-eindig! En as jy vir haar hierdie skrywe wys gaan jy ten minste 'n goeie maand ook hê!

    ReplyDelete
  2. Ek het onlangs so ondervinding by Gautrain se Sandton stasie gehad. Koppe is geskud nadat ek deur daai deure gebars het.

    ReplyDelete
  3. Ek kan my dit goed voorstel Martin, wens ek was daar om dit te beleef! Wat 'n man nie sal doen om 'n trein te haal nie! Jan, wyse woorde...

    ReplyDelete