Saturday, 12 November 2011

My kulinêre ervarings (Deel drie)



(gaan hier vir deel twee van my kulinêre ervarings)


Suid-Afrikaners hou van biltong. Dit mag miskien ‘n veralgemening wees, maar ek glo dis waar. Veral hier in Australië, of enige ander land waar die Suid-Afrikaanse expat homself mag bevind. Ek glo selfs diegene wat normaalweg nie lief is vir biltong nie sal begin hunker daarna, bloot omdat dit nie so maklik is om dit hier te bekom nie – mens wil mos altyd dít hê wat jy nie kan kry nie, of hoe? So hoe gemaak wanneer jy in Australië sit en die biltong is in Suid-Afrika?

Daar is vier opsies:

Opsie 1: gaan daarsonder… nee wag, dis nie 'n opsie nie. So eintlik is daar dan net drie opsies.

Opsie 1: Vlieg na Suid-Afrika om dit te kry. Probleem: te duur, en buitendien kan jy nie gou ‘n halfuur voor die Bokke afskop op die êrrie spring en dink jy gaan betyds wees vir die game nie. Nee, skrap daai een ook.

Opsie 2: Gaan maak ‘n draai by jou vriendelike Springbok Foods. Hulle het menige Suid-Afrikaners uit die verknorsing gehelp met hulle voorraad van Mrs. Balls Chutney, Ouma Beskuit, en reg geraai, biltong. Dis ‘n maklike en effektiewe opsie, maar skiet bietjie te kort as dit kom by die uitdaging daarvan. Nee, ek glo die biltong smaak net soveel beter as jy dit self kan maak (of so het ek gedink), en dit bring my by:

Opsie 3: Maak jou eie. Eureka! Net daar spring ek en my medepligtige, vertroueling en seun, Herman, in die kar en kies koers na die naaste Bunnings Warehouse om te gaan voorraad aankoop, want Möller se kind gaan vir hom ‘n biltongkas bou!

Ons stap in met 'n idee in my kop, 'n plan in my hand en baie moed, en stap uit met 'n trollie wat kreun - hoekom ek altyd die een moet kies wat so skeef loop soos ‘n Putco bus weet ek nie, maar dis ‘n storie op sy eie - vol gepak met planke, boorpunte, skroewe, muurprop, skarniere, vernis, skuurpapier en kwaste. By die huis aangekom omskep ek die speelkamer in ’n tydelike werkswinkel en my twee gewillige helpertjies word ontbied.


Die plan het ek iewers op die internet gekry en dit werk so: Eers bou jy 'n vierkantige kassie sowat 1m hoog by 600cm breed en 600cm diep. Dan boor jy 'n klomp gate van sowat 3cm in elkeen van die kant panele - help glo vir die ventilasie. Hoeveel gate? hoor ek iemand vra… Dit lyk nie na baie as jy die kolletjies afmeet waar jy moet boor nie, tot jy begin! 'n Totaal van agt-en-vyftig gaatjies! Na die drie-en-twintigste een is dit nie meer lekker nie. Ek as jy nou regtig keelvol begin raak vir boor en jou spiertjies pyn en jou vrou begin jou met dáái oё kyk en die kinders begin onder die beddens wegkruip en buurvrou gluur jou aan van oor die heining dan weet jy, jy is halfpad klaar geboor. Afhangend van waar die kassie gaan staan sal dit dalk goed wees om gaas voor die gate sit om die ongewenstes uit te hou. In my geval sou die kas binnenshuis staan, so het ek dit maar gelos vir eers.

As die gate boor uiteindelik klaar is (of so het ek gedink), plaas jy ‘n gloeilampie onder in die kas. Bo-oor die gloeilampie kom dan nog ‘n plank en hierin boor jy weereens nog ‘n klomp gate om die warm lugvloei deur te laat. As dit klaar is boor jy die laaste agt gate, vier bo aan die linkerkant en vier aan die regterkant. Hierdeur word vier ronde stawe gedruk waaraan die vleis gehang gaan word. Dan kom vier wieletjies onder aan, en siedaar! Na baie gesaag, te veel geboor en natuurlik baie "hulp" van die klein lyfies het die kas stadig die lig begin sien.









Volgende stap: vernis. Die kas is mos nie klaar as dit nog in daardie bleek pine skakering staan nie. Ek besluit toe op ‘n Golden Oak, of was dit nou Cherry? Kan nie lekker onthou nie, maar hoe dit ook al sy, toe ek klaar is het ek gedink dit lyk soos ‘n wafferse koelekters item. Gelukkig het ek die vloer onder veertien lae ou koerantpapier gekry voor ek begin het. Dit moes ‘n besturing wees want ek was net mooi halfpad deur toe skop ek die vernis kannetjie dat hy daar trek. Sien net arms en bene soos ek probeer keer en red wat daar te redde is maar al wat in die kannetjie oorgebly het was ‘n vernislagie so dun soos Julia Gillard se Carbon Tax beloftes – die res van die vernis was besig om teen ‘n kommerwekkende tempo die koerantpapier te bedek.


Al wat ek kon doen was om so vinnig soos my vertraagde reaksies my sou toelaat, die vernis van die papier op te skraap en klaar te maak. Met die laaste walmpie vernis wat ek van Kevin Rudd se gesig (wat nou ‘n merkwaardige ooreenkoms begin toon het met die Aboriginals wie hy besig was om toe te spreek) kon afskraap is die kassie toe klaar. En het dit net-net gemaak! Hoe ek alles klaar gekry het weet ek nie mooi nie want kort na die eerste lagie begin ek voel hoe ek sweef tussen geel kappertjies en ‘n Bob Dylan deuntjie begin fluit. Diep in die verte hoor ek Christa se stem wat iets sê van kas uitvat en huis en verniswalms en kinders wat hoog word. Drie dae later is kassie droog en kan ek weer reguit loop. Ek moet erken dit was nogal ‘n aangename ervaring – een wat ek amper kan aanbeveel.




Soos met die meeste van my “projekkies” het ek dit totaal onderskat. “Nee liefie, sallie nie lank vattie nie, teen vanaand hang die biltong al!” Yea right. Dit draai toe uit om amper veertig dae en veertig nagte te neem voor ek die genot ervaar het om my eerste repies te sien hang. Daar staan nie verniet geskrywe nie, “in die sweet van jou aangesig sal jy jou biltong verdien”, of so iets… Die afwagting het egter die opwinding net groter gemaak. Nou was ek reg om die kassie in te wy. Die biltongspeserye en hakkies wat ek uit Perth bestel het, het by ons aangekom en dit was ook nie honderd jaar nie of ek stap uit Coles met 'n pond of twee silverside onder die arm. Die dag het aangebreek en ek was gerat vir biltong maak!

Dit was swoeg en sweet soos ek die vleis in repies sny en asyn doop en speserye gooi en daar's growwesout net waar jy kyk. Toe ek die laaste repie hang dog ek toe so by myself, "Self, jy het nogal nie te vrot gevaar nie". Ek kon nie wag dat die tyd verbygaan sodat ek my tande daarin kan sink nie. As ek my maar kon kry loer ek by die kassie in net om seker te maak alles is OK, en elke aand voor ek gaan slaap moes ek dit net gou weer gaan kyk, net om seker te maak.

Die groot dag breek toe aan en ek maak myself reg vir die okkasie. Ek haal ‘n repie biltong uit en sny vir myself ‘n stukkie af. Dit word sorgvuldig ondersoek. Nie te veel speserye nie, die kleur is reg, dis nie te droog nie. Dit beloof om die beste stukkie biltong te wees wat ek nog geëet het. Ek gaan sit gemaklik en daar speel sagte musiek in die agtergrond, die ligte word verdof. My gemoed is rustig. My asem ritmies. Ek maak my oë toe soos hulle dit altyd in die Cadburys advertensies doen en verlustig my in die eerste happie. Die oomblik het ongelukkig nie lank gehou nie. Wat ‘n oomblik van genot moes wees het besonder vinnig in ‘n marteling ontaard. Wat ek nooit besef het nie, maar later wel uitgevind het, is dat ek "corned" silverside gekoop het. Vir die van julle wat, soos ek, nie van beter weet nie, dit beteken blykbaar dat die vleis reeds gesout is.

Met daai een hap neem ek seker vyf keer my RDI van sout in! Met oë wyd van verskrikte angs spring ek op, die biltong trek na die een kant en ek na die ander, op pad na die naaste kraan. Kinders probeer ook net uit die pad kom, tafels en stoele spat en buurvrou kyk weer wat aangaan en skud maar net haar kop. So leer mens seker. Daardie aand word al die biltong uitgegooi en so in die stilligheid vee ek ‘n traan of twee af.

Dit was hartseer en vat aan ‘n man, maar wenners staan mos op en probeer weer. Die volgende keer koop ek toe 'n stukkie vleis wat ongesout is en dié keer gaan dit toe beter. Die finale produk was nog nie 100% reg nie maar al amper eetbaar. So met die tyd sal dit seker beter begin gaan. Maar mensies, is dit nou vir jou harde werk! Opsie nommer twee raak al meer aanloklik en tot ek die kuns verfyn het (wat klaarblyklik nog ‘n rukkie gaan wees) sal ek maar by die vriendelike mense van Springbok Foods in Oxenford ‘n draai gaan maak om my droëwors en biltong voorraad aan te koop. Gepraat van droëwors – hulle het die lekkerste chilli droëwors wat ek nog geëet het, en na my ondervinding van die sout is dis iets wat ek liewers nie self sal aanpak nie…





No comments:

Post a Comment