Wednesday, 12 October 2011

My kulinêre ervarings (Deel twee)

(gaan hier vir deel een van my kulinêre ervarings)


Ek kan dit nie help nie, maar iets wat nog altyd my aandag getrek het is kos. Noem my 'n vraat of onopgevoed of niksgewoontie, maar as daar kos ter sprake is dan trek dit die aandag. Dus, toe ek die epos kry wat my uitnooi na 'n "Software Test Automation Workshop" spits my ore en my hart klop bietjie vinniger en my handpalms word sweterig. Mens kon sweer ek is verlief maar eintlik is dit net omdat my oë die epos vinnig ge-scan het en die neurale reseptore in my brein die woorde "free lunch" dadelik opgetel het. Dit was blykbaar hulle manier om mense te oortuig om deel te neem, en blykbaar het dit gewerk. Soos ek gesê het, ek kan dit nie help nie. Die woord “lunch” trek op die beste van tyd my aandag maar as die woord "free" in dieselfde sin is dan flits al die liggies in my brein en klokkies lui en ek moet net keer of ek kwyl my sleutelbord sopnat. Ons het maar almal ons swakhede, en ons prys.


Die oggend sessie was maar yadda-yadda yap-yap, met 'n paar bla-bla-s tussen in. Dit was vir my so bietjie moeilik om my gedagtes te hou by die onderwerp onder bespreking en nie af te dwaal met gedagtes van ribbetjies, aartappelslaai en knoffelbrood nie. Uiteindelik kom die sessie tot ‘n einde en die brigade kies koers in ‘n westelike rigting om te gaan kos soek. Ons loop eers by 'n burger plekkie verby maar niemand is rêrig lus vir 'n McDonalds nabootsing nie. Volgende keuse, Nando's. Daar moet ek toe weer die sakdoekie uitpluk en die bekkie afvee. Ons was sterk op pad daarheen toe iemand een of ander Japanese plek voorstel. "nee,... Nee,... NNEEEEEE!!!!!" skree ek hier in my binneste, maar groepsdruk oorwin die stryd. Japannees sou dit wees. Aangesien hulle betaal het besluit ek toe dat dit in my beste belang sou wees om maar toe te gee en te hoop vir die beste. Hulle sou dit nie waardeer het as ek stem dik gemaak het om my misnoeë bekend te maak nie. Binne minute lyk ek soos Robinson Crusoe toe hy van die verlate eiland sy skippie onder die golwe sien verdwyn – my gesig het daai far-away uitdrukking gehad wat spreek van totale hulpeloosheid en wanhoop, maar eintlik probeer ek net die menu uit-figure. Die laaste ding wat ek wou hê is dat my kos vir my terug loer vanuit die bakkie. Was dit nie vir die prentjies nie het ek seker begin huil, maar 'n man hou maar sy pose en ek bestel toe iets wat billik lyk, op rys. Dit was 'n fout.

Dis nie dat daar iets fout was met die “iets” nie (ek dink dit was een of ander hoenner-effek). Ek het ook nie in beginsel ‘n probleem met rys nie. Nee in teendeel, dis dalk die veiligste opsie in 'n Jap-joint want ek ken dit darem daar waar ek vandaan kom. Nee, die probleem lê by die eetgerei. Boetie besef dit toe ongelukkig bietjie laat en kort voor lank stap ek terug, bewapen met 'n kospakkie in die een hand en "eetgerei" in die ander - eetgerei in die vorm van twee dun stokkies! Werklikwaar! Dis soos om jou hare te probeer kam met 'n pen. Die Japs het vir ons die eerste sakrekenaar gebring, asook die eerste digitale kamera en CDs, maar hulle kon nie iets so eenvoudig soos die nederige vurk of lepel die lig laat sien nie? In hierdie hedendaagse tyd van tegnologie, wêreldhandel en die internet sou mens dink dat hulle dalk by ons iets sou leer, maar dis ook nie die geval nie. Nee, om met stokkies te probeer eet is blykbaar nog die in-ding.

So kom ons toe by die kantoor. Ons sit aan om te eet en toe begin die sports. Almal smul te lekker aan hulle kunshikatsu of tonjiru terwyl my een stokkie noord-oos kyk en die ander suid-wes. Nes ek dink ek kry die twee bymekaar druk ek bietjie hard en sien jy net ryskorrels spat. Hoe meer ek konsentreer om ‘n happie vas te lê hoe meer spring my kos rond op die bord soos ‘n kakkerlak op ‘n warm plaat, en hoe meer desperaat begin ek raak. Met Japanese kos is daar niks fout nie (solank dit nie vir my terug loer nie). In teendeel dis besonder lekker, wat beteken dat die marteling net soveel groter was! Verbeel jou - die hele oggend wag jy nou al vir hierdie oomblik. Jy is sielkundig en geestelik voorberei vir ‘n feesmaal. Jou hande bewe, jou mond water en jy sukkel om jou gedagtes te beheer. Nou het die groot oomblik aangebreek. Die geure hang dik in die lug om jou, voor jou is iets wat smeek om verorber te word. Jy kan hoor hoe klap die tonge om jou van pure lekker kry, maar jou kos bly buite jou bereik – so naby en tog so ver. Dis mos marteling in die hoogste graad!

Naderhand kon ek dit nie meer verdra nie. Ek onthou vaagweg hoe ek in desperasie die stokkies een kant toe gegooi het en, met dalk ‘n bietjie té veel entoesiasme, begin soek het na eetgerei. Stoele het gespat en tafels het geskuif, en al wat laai of kas was, is oopgeruk.

Die kombuis se inhoud was maar skraps om die minste te sê. Dit het bestaan uit die tipiese nuttelose items wat jy maar altyd in ‘n kantoor kombuis kry – ‘n servet of twee, miskien ‘n paar verdwaalde sakkies sout, ‘n koffie-beker of drie wat jy liewer nie uit wil drink nie en ‘n ou koerant. Na mate ek soek begin die wanhoop bou, en toe begin dit stadig in ‘n diep swart depressie omsit. Maar gelukkig net voor ek die stryd verloor sien ek dit! Eureka! ‘n Vurk! Dit was nou wel so ‘n ou krom, gevlekte vurk wat gelyk het of dit uit die boereoorlog dateer, maar in desperate tye kla jy nie. Die suur kyke wat ek sekerlik gekry het, het my ook nie in die minste gepla nie. Ek het ‘n vurk opgespoor en dis al wat op daardie stadium vir my belangrik was in die lewe!

Vir volledigheid onthalwe sal ek dus by my gids, "Practical guide to surviving in Australia and living to tell the tale", die volgende raad insluit: Wanneer jy die strate van Melbourne toer weet jy nooit wanneer chopsticks die enigste opsie is nie. Pak dus in jou rugsak, saam met jou kam, tissues, rennies en jou varkoorgevrummelde Lonely Planet gids, 'n vurk.

Deel drie van my kulinêre ervarings sal op ‘n stadium volg. Teken gerus op as ‘n “follower” van my blog om eerste in kennis gestel te word. Google belowe plegtig om niemand se adresse bekend te maak nie, en dit sal my baie belangrik laat voel.

Tot ‘n volgende keer dan, vaarwel, arrie-warrie en totsiens.

3 comments:

  1. Daar's nie verniet die gesegde: "There ain't no such a thing as a free lunch" nie...

    ReplyDelete
  2. Dit herinner my aan daai keer toe jy en Francois my jare terug na Yo Sushi! in Brooklyn gevat het. Dit was my eerste smaak van sushi en julle het my sterk aangemoedig om die komplimentêre 'avokado' in die klein bakkie te probeer.

    Die wiel draai Reinhardt :)

    ReplyDelete
  3. Sou ons REGTIG dit gedoen het? Nie ONS nie! Kyk net die onskuld op ons gesigte. :)

    ReplyDelete