Monday 28 November 2011

Australian Corporate Games 2011 (Afr)

(there is also an English version of this page)


Ek weet nie van julle nie, maar ek voel nie al dag of ek oud word nie. In my kop voel ek nog 19, pas klaar met skool en in my eerste studiejaar, iets wat, as ek my somme reg gemaak het, al 16 jaar terug plaasgevind het. Aan die een kant is dit goed want hulle sê mos jy is so oud soos jy dink jy is. Maar dit kan 'n man ook duur te staan kom, soos wanneer jy instem om aan die Australian Corporate Games deel te neem.

Ek het twee jaar terug die 10km wedloop aangedurf en uit die 205 deelnemers het ek derde gekom. Van agter. Wanneer die beamptes daai oranje cones en vlaggies wat die roete aandui begin kollekteer pas na jy verby gekom het is dit seker 'n subtiele wenk dat jy dalk nie so kompeterend is soos jy mag dink nie. Ek moet egter net my dank uitspreek teenoor 'n ene Lesley, 'n tannie van ANZ wat stadiger as ek gehol het, en twee van my oud-kollegas by JDS, Neale en Vilam. As hulle nie besluit het om die 10km te stap vir 'n gesamentlike laaste plek nie was ek heel laaste. (hier is die offisiële resultate van daardie geskiedkundige dag)

Hoe vinnig vergeet mens nie! Twee jaar later kry ek myself weer dat ek opteken vir die 2011 Australian Corporate Games, maar hierdie keer het ek bietjie meer verstand en besluit ek om die 5km te hol eerder as die 10. 


Kort daarna woon ek die maandelikse "Fly Home Friday" by. Dis iets wat JDS, die maatskappy vir wie ek werk, ingestel het. Al die konsultante het een maal per maand “huis toe” gevlieg na die hoofkantoor in Melbourne vir 'n dag se vergaderings, werkswinkels en spanbou. Na mate die maatskappy gegroei het besluit hulle ons sou elke kwartaal Melbourne toe vlieg en die ander maande sou die Brisbane en Sydney kantore 'n "local FHF" hou. Die spanbou oefening vir die Brisbane kantoor was hierdie keer putt-putt, en daarna het ons 'n biertjie geniet by die aangrensende restaurant. Dit was hier waar almal skielik en sonder waarskuwing teen my draai het en daarop aangedring het dat ek nie net die 5km hol nie maar ook inskryf vir die touch footy (wat ons Saffers ken as touch rugby). Ek het hard en lank daarteen geveg maar groepsdruk het geseëvier. Die feit dat die eienaar van JDS ook teenwoordig was en saam teen my gestaan het, het natuurlik nie my saak gehelp nie. 'n Man wil mos nou nie jou opkomende salarisaanpassing in gevaar stel nie. Touch footy sou ek dus speel.

Soos dit nou maar gaan los ek toe die voorbereiding tot die laaste, want ek is bietjie dik en dik mense hou nie oor die algemeen van hardloop nie. Sowat vier weke voor ek sou moes hol het ek bekommerd genoeg begin raak om my tot aksie te dwing en begin ek toe in alle erns met my oefenprogram. Ek voel braaf en vol bravade en begin toe sommer met my "dam roete". Dit begin met 'n 2.5km stap na die Cove Park dam om die onwillige spiertjies so bietjie op te warm. Hier poog ek dan om saam met die ander, ietwat fikser, mense om die dam draf en soms stap. Dan vat ons ‘n ruskansie sodat Koda, my Australian Kelpie–brak bietjie kan swem en afkoel in die dam, waarna ons dan huiswaarts draf.

Koda koel af in die water

Koda dink natuurlik hy vat my vir 'n stap!
Ongelukkig het hierdie voorbereiding net 4 dae gehou, toe tref dit my, shin splints. Laat ek julle nou vertel, dis nie 'n grap nie. Net daar word alle oefening gestaak. Om dinge erger te maak moes ek 'n week voor die groot dag een oggend ouder gewoonte weer hol vir die trein (daar kry ek darem bietjie oefening in) en halfpad by die stasie se trappe op trek ek toe 'n spier in my rug dat ek sommer so skeef loop. My vermoë om nou uit die bed uit op te staan was vinnig besig om in die niet te verdwyn, wat nou nog om kompeterend te probeer wees in ‘n 5km wedloop of touch footy!? Ek pop toe maar 'n paar Voltarins elke dag en op 'n manier kom ek deur die week. Kort voor lank bevind ek my op 'n Virgin êrrie haastig op pad Melbourne toe.

Die groot dag breek aan en tipies Melbourne, is dit toegetrek en koud en reënerig. Lekker weer om in die bed te lê met 'n beker hot chocolate en 'n goeie boek. Minder lekker weer om in te hardloop. Sowat 6:30 stap ons toe om te gaan registreer en ek kry my JDS hempie. Toe ek hom so kyk besef ek dadelik hier kom probleme. Hy lyk heeltemal te klein. Na 'n wille gespook en gespartel kry ek die ding aan my lyf. Verlede keer het ek 'n large bestel en dié was so bietjie aan die groot kant. Hierdie jaar besluit ek toe om eerder 'n medium te vat maar sonder dat ek daarvan bewus was besluit JDS om by 'n ander verskaffer, wat kleiner mates gebruik, te bestel. So kry ek toe 'n hempie wat my behoorlik na my asem laat snak. Soos ek reeds genoem het, het ek 'n effe ronder figuurtjie en probeer ek gewoonlik maar my magie bietjie intrek om half respektabel te lyk. Hierdie hempie is egter so styf dat ek óf my maag kan intrek óf asem haal. Dit sou klaarblyklik 'n lang dag wees...

Die meer by Albert Park
Na registrasie stap ons toe na die wegspringpunt, of eerder al die vris-chris oudjies en sexy anties kom aangestap, terwyl dikkes aangewaggel kom met alles wat tril en skud soos ek stap. My sexy hempie help die saak ook nie aan nie. Ons 5km roete sou ons om die Albert Park dam vat, die kêrels wat 10km doen draf twee maal om. By die wegspringpunt hoor ek hoe twee girls hulle strategieë bespreek, van stadig begin en vinnig eindig en so aan. Die een sê toe sy gaan niks verander aan die strategie wat sy gebruik het vir haar voorbereiding nie. Ek dink toe so by myself, as ek niks aan my oefenstrategie verander nie sou ek nou nog in die bed gewees het en 'n uur later opgestaan het om te gaan koffie maak. Nee, in my geval sou ek maar aan my strategie móés verander. Ek besluit toe maar op een waar ek stadig begin én stadig eindig.

En toe begin die wedloop. Die mal hase wat 10km hardloop kry swart nommers en ons wat slim genoeg was om die 5km te kies kry rooi nommers, my nommer is 5229. Ek en 'n minder dik maar ewe onfikse kollega word die eerste 15 meter saam gesleep in die bondel drawwers, daarna was ons op ons eie. Vir die eerste 200m gesels ons te lekker, tussen die 200m en 300m merk is dit net kort twee- of drie-woord sinne. Na 300m hyg ons so dat dit alle inspanning kos net om te probeer asem haal. Ons het handgebare probeer maar jy kan nie 'n baie intelligente gesprek daarmee volhou nie so kort voor lank is ons albei aan ons eie gedagtes oorgelaat. Myne het basies bestaan uit twee vrae wat om die beurt in my kop na vore kom. Die eerste vraag was 'n eenvoudige, "HOEKOM???", en dit was dan gewoonlik gevolg deur, "Kan ek tog nie maar loop nie?"

Op die eerste vraag het ek nóú nog nie 'n antwoord gekry nie. Die tweede vraag sou normaalweg 'n vinnige en beslissende "ja" gekry het, maar dis 'n bietjie moeiliker as jou makker langs jou draf. 'n Man wil mos nou nie sleg afsteek nie en so dog ek toe solank hý draf moet ék ook maar draf. Na die tyd sou ek hoor dat hy presies dieselfde gedink het. Het ons dit maar voor die tyd bespreek kon ons albei sonder gewete of gekweste egos stap, maar helaas, dit was te laat.

Halfpad deur hardloop ek my toe amper vas in 'n idioot wat van voor af kom. Dit laat my toe dink aan daai grappie van oom Karel uit die Vrystaat wat Johannesburg toe ry vir 'n landboukongres. Hy was in 1972 laas in die stad en ry meestal trekker op die plaas, so dit was maar 'n uitdaging vir die oom om die minste te sê. Gelukkig leef hulle in moderne tye en tannie Marie gee toe maar vir hom haar selfoon, net vir ingeval. Met tee tyd sit tannie die radio aan en is net betyds om 'n berig te hoor van 'n onverskillige motoris net buite Johannesburg wat besig is om Noord te ry op die N1 Suid, stroomop die verkeer in. Sy bel gou oom Karel en waarsku, "my ou man, wees tog versigtig, ek hoor nou net op die draadloos daar’s 'n simpel ou wat die verkeerde rigting ry en groot moles maak!" Hy antwoord haar, totaal gestres en uit asem, "my vrou, daar’s nie net één nie, daar’s honderde!" en met daardie gedagte keer ek toe terug na die gedagte wat ek vroeër gehad het, van "Hoekom???"

So hou ons toe maar aan, en na ek so driekwart pad dear die marteling was hoor ek net hoe daar 'n kêrel van agter af nader kom. Vir elke treë wat ek gee hoor ek hoe gee dié man drie, of so het dit geklink. Soos hy ons verbysteek sou ek mos sien die man het wragtig 'n swart nommer. Mensig, hier sukkel ek om een voet voor die ander te kry en dit verg al my selfbeheersing om nie in 'n bondeltjie te gaan lê langs die pad en dood te gaan nie, en hierdie perd steek my verby in sy tweede rondte!

Uiteindelik kom ons by die eindpunt en ek sak selfbejammerend neer op die grond. Dit kos alles wat ek het om later daar op te staan, terug hotelkamer toe vir 'n toebroodjie en om salfies aan die seer voete te smeer, en toe is dit terug na die veld om te gaan touch footy speel. Ons vat toe maar 'n taxi want teen daardie tyd was ons lywe so gaar en het die weer so goor geword dat ons nie kans gesien het om te loop nie. Die reën het feitlik horisontaal geval soos die yskoue wind so deur jou sny. Moenie dink jy staan onder 'n afdak en bly droog nie! En dit was nou in hierdie weer wat ek touch footy sou moes probeer speel. Na die hardloop vroeër die oggend was ek nie tot veel in staat nie so ek hou toe my dik lyf maar skaars en neem die flank posisie in, wat basies beteken jy hol op en af die heel tyd met so nou en dan se verdedigende raakvat teen die opposisie. Ai, wat 'n vernedering. Op een stadium het dit gelyk of ons die toernooi gewen het soos ons juig, maar eintlik het ons net ons eerste punt aangeteken (teen daardie tyd was die ander span al op double digits met hulle punte)

Hier het die weer beter begin lyk... :)

Teen die tweede game begin my knieë knak en my binnegoed skommel maar ons moet speel! Dis so nat dat elke tree wat jy gee maak so shlof-shlof en waar daar eens op 'n tyd gras was is daar nou net so 'n grys-bruin modder bad affêre wat hulle die veld noem. Met die derde game (en gelukkig die laaste een, want van deurdring vir ons span was daar geen sprake nie!) het my ore begin suis, my balans was daarmee heen en van die middel af ondertoe het ek geen gevoel meer oor nie. Net voor die St John noodhulp bussie my kom oplaai is ons toe klaar en kon ek hotel se kant toe begin kruip. Was dit nie vir die visioen van 'n warm, droë, sagte bed nie het ek seker nou nog daar langs die veld in 'n modderpoel gelê. Ek wou net begin toe sê die baas hy vat ons eers na 'n pub om te gaan herstel met ‘n biertjie en ‘n groot bak slap chips, wat natuurlik vir my geklink het soos ‘n vyfgang maaltyd. Ek het die uitnodiging gretig aanvaar en kort voor lank het ek al die carbs vervang wat ek vroeër die dag verloor het.

Die volgende oggend stuur my lyf vir my 'n baie duidelike boodskap wat my inlig dat hy nie vir sulke dinge gemaak is nie. Selfs om asem te haal is seer en van hoes praat ek nie eers nie. So strompel ek half kruppel om te gaan koffie maak en my gaar lyf by die lughawe te kry. My linker kleintoontjie, oorlobbe en die punt van my neus is die enigste dele van my lyf wat nie styf en seer is nie. Ek voel egter tevrede, want 2011 se Australian Corporate Games kan sonder twyfel as suksesvol bestempel word (met sukses wat gemeet word aan die feit dat ek nie in die hospitaal of lykshuis opgeneem is nie). Nou wag ons vir 2012.


Australian Corporate Games 2011 Results

2 comments:

  1. Hehe. Jy pas goed in by die Aussies: Lekker sportmal. Maar dis goed om te sien hoe almal aktief bly en lekker fiks is. Tydens middagete in die stad moet mens oppas dat al die drawwers en fietsryers jou nie van die sypaadjie afstamp as hulle verby rits nie.

    ReplyDelete
  2. Daar is drie soorte mense hier:
    - dié wat weet hulle is fiks
    - dié wat dink hulle is fiks
    - dié wat skielik en met 'n skok tot die besef kom hulle is nie fiks nie

    Ek was voor die naweek in die tweede kampie, nou val ek onder die eerde groep... :)

    ReplyDelete