As dit kom by uiteet, het ek gedink ek is orraait. Ek ken mos die basiese etiket, soos om altyd met die buitenste mes en vurk te begin eet, die servet netjies op jou skoot oop te vou en nie geluide te maak waarvoor die kinders so lekker kan lag nie. Daai bakkie met warm water en 'n suurlemoen skyfie is nie 'n fancy nuwe sop nie en mens krap nie in jou neus nie, ...uhm, wel as jy regtig móét, doen dit dan net wanneer niemand kyk nie. Dis omtrent die som totaal van wat ek geweet het. Maar mens is mos nooit te oud om te leer nie. So ontdek ek toe hierdie min bekende feit kort nadat ek en vroulief by my werk se jaarlikse dinee aangekom het.
Dis gewoonlik 'n gesellige geleentheid waar hulle vir ons die kans gee om te voel hoe dit is om by ‘n prôperse restaurant te gaan uiteet – een waar daar geen ontstellende geraas is nie, daar nie te veel sout op die chips is nie en een wat nie ‘n groot geel “M” op die dak het nie. Ons kry nie baie die geleentheid nie, so gryp dit toe aan.
Dis gewoonlik 'n gesellige geleentheid waar hulle vir ons die kans gee om te voel hoe dit is om by ‘n prôperse restaurant te gaan uiteet – een waar daar geen ontstellende geraas is nie, daar nie te veel sout op die chips is nie en een wat nie ‘n groot geel “M” op die dak het nie. Ons kry nie baie die geleentheid nie, so gryp dit toe aan.
Soos altyd was die aand gesellig. Dit het begin met die gebruiklike “cocktails & mingle” formaliteit waar jy in groepies van drie of vier rond staan en elkeen óf intelligent probeer klink, óf geïnteresseerd probeer lyk. Ek beoefen gewoonlik laasgenoemde want, kom ons wees maar realisties, ek was nog nooit regtig “the life of the party” nie. So beweeg ons later na die tafels waar ‘n knap wagtertjie ons bestellings begin neem. Dis hier waar die “Groot M” 'n paar punte behaal bo die "Nest Hotel" waar ons die aand was, want daar verstáán jy immers wat jy bestel.
Die opsies vir voorgereg het onder meer ingesluit "Jerusalem artichoke veloute drizzled with truffle oil", "Twice-cooked pork belly, caramelized ginger and apple puree", "Seared scallops on pomme puree and crispy prosciutto" en "Traditional Hopkins River beef tartare with garlic croutons". Toe die ander mense om die tafel die menu sien sê hulle "Oooh!", en "Aahh!", en ek dink "Huh?!?". Ek weet iets van Jerusalem maar het nog nooit gelees van "veloute" nie, die "Pork belly" effek klink eenvoudig net verkeerd en die "seared scallops on prosciutto" klink soos iets uit 'n Middeleeuse martelings-handboek. So toe besluit ek maar op laasgenoemde, die "beef tartare". Dit het vir my gelyk na die onskuldigste en veiligste opsie - immers verstaan ek die meeste van die woorde. Ek was nie net mooi seker van die "tartare" nie maar dit het geklink soos daai lekker wit sousie by Ocean Basket waarvan jy nooit genoeg kan kry nie. Blykbaar is dit nie. Nee my liewe mensies, leer nou uit 'n kameraad se foute.
Net voor dit kom vra iemand vir my wat ek bestel het, waarop ek antwoord “that, uhm, beef...thingy...”. Ewe verbaas sê hy toe "Oh, I didn’t know you liked the raw meat dish. Sounds great! I was going to order that too but rather...". Sy stem word vaag en die kamer stil. My mond is meteens droog en ek hunker na iets koud en sterk, drie vingers diep oor ys. "Wat ?!? Wie het iets gesê van rou??" En so leer ek toe die "tartare" is nie daai lekker wit sousie wat jy saam met jou vis kry nie. Nee, dis blykbaar Frans vir "stuk-rou-mince-op-jou-bord", met 'n rou duif-eier bo-op, opgedollie met 'n paar harde stukkies brood en 'n asyn-sousie waarsonder hulle waarskynlik die sogenaamde "voorgereg" nooit sou kon verkoop nie. Die plekkie genaamd "The Nest Hotel" verander toe skielik in "The Nest Correctional Centre and Torture Chambers". Praat van langtand eet! As deel van my "Practical guide to surviving in Australia and living to tell the tale", kan ek die volgende raad gee vir so 'n situasie:
Skraap die glibberige rou eier af na die een kant. Skep die eerste vurk rou mince en hap. Kom vinnig in die ritme van hap-sluk-hap-sluk, moenie kou nie en dink aan rooi ballonne, geel daisies of dolfyne. As jy gelukkig is sal die porsie nie te groot wees nie. As jy nie so gelukkig is nie of eenvoudig net nie meer jou weg oopsien om nog ‘n happie te vat nie moet jy maar ander plan maak. Hierdie is een van daai tye van ernstige nood waar dit nodig is dat jy op jou voete dink, waar jy kreatief en slinks moet wees. Byvoorbeeld, in teenstelling met die algemene siening kan ‘n blompot op die tafel meer as een doel dien...
Die res van die aand het sonder te veel drama verloop en die hoofgereg en poeding was, om die minste te sê, besonder aangenaam. Maar dan weer, na daardie voorgereg kon jy feitlik enige dis voor my neersit en ek sou smul daaraan! Nou waardeer ek weer die “Groot M” – dit raas dalk en hulle mag dalk nie regte vleis gebruik nie maar ten minste is dit gaar!
In deel twee wat hierop gaan volg beoog ek om waardevolle raad te verskaf oor jou opsies, moets en moenies as dit kom by wegneemetes.
Tot dan, au revoir.
Twee brokkies advies:
ReplyDelete1. Begin Masterchef Australia kyk. Dit sal jou baie toekomstige trane spaar.
2. As die rou vleis nie jou ding is nie - vermy ook Beef Carpaccio.