Tuesday 24 January 2012

Wanneer om te Facebook, en wanneer nie...

...dit is die vraag. Ek is 'n onlangse bekeerling tot die Facebook-ding. Wel, relatief onlangs - ek het iewers in Januarie 2011 opgeteken, die 7de as ek reg onthou. Voor dit was ek altyd daardie persoon by die braaivleisvuur wat aangevoer het, "Facebook? Ag nee wat, dis nie vir my nie!” Maar ek moet erken, sedert ek by die Facebook brigade aangesluit het, het hierdie storie nogal gegroei aan my. Ek het baie van my ou skoolpelle opgespoor wat sonder Facebook waarskynlik nie sou gebeur nie (hulle is baie bly want hulle het blykbaar baie na my verlang), en ek vang nou meer gereeld op met my familie, iets wat ook sonder Facebook dalk nie so gereeld sou gebeur nie. Ek het sover 'n vriende telling van 143, redelik beskeie as jy dit vergelyk met die 500-plus vriende wat sekere van my Facebook maatjies het. Ek weet, die definisie van "friend" in Facebook is ietwat meer liberaal, of minstens meer omvattend as my persoonlike definisie daarvan. 



Dit daar gelaat, ons weet almal dat Facebook ontwikkel het in 'n besonder kragtige medium waardeur massas mense bereik kan word. Die korporatiewe wêreld hier in Australië (en ek sou dink die res van die wêreld ook, met die uitsondering dalk van Noord Korea en Mongolia) het hierdie potensiaal definitief raakgesien, asook natuurlik ons geliefde politikusse. Die operatiewe woorde hier is die sogenaamde “social media”. Dis 'n lokaas wat eenvoudig te groot is om te ignoreer - daardie belofte van ‘n kans om miljoene potensiële kopers of ondersteuners te bereik. Ek het nog nooit regtig 'n probleem hiermee gehad nie, as hulle 'n bietjie gratis advertensie kan kry deur iemand te oortuig om hulle te "like", of met hulle maatjies te maak, goed vir hulle. Ek doen immers dieselfde hier op my blog (nie dat ek regtig tot op hede super suksesvol was nie - jy kan gerus na jy hierdie boeiende blog gelees het op my "share this page" knoppie kliek! Toe, jy weet jy wil!) 

Maar kan mens hierdie “social media” ding te ver vat? Ek het die antwoord op hierdie vraag gekry toe ek 'n dag of drie terug op die porseleintrein gaan sit het, en met diep denke begin nadink het (soos mens nou maar maak as jy daar sit). Terwyl my oë in en uit fokus beweeg, word my aandag met die tyd gevestig op die pakkie toiletrolle wat op die vloer voor my lê, die resultaat van 'n wyse besluit die vorige dag om nog voorraad aan te koop (glo my, jy wil nie in 'n situasie wees waar jou voorraad wit goud klaar raak nie, maar dis 'n storie vir 'n ander dag). Terwyl ek so sit en die pakkie bekyk sien ek ‘n plakker wat ek nog nooit van tevore veel ag op geslaan het nie. Hierop word ek hartlik uitgenooi om die toiletrol-mense op Facebook te gaan opsoek, of hulle Twitter gesprekke te volg. Ekskuus??? Nee werklikwaar!! Ek sal die eerste wees om te erken dat ek baie, baie van hulle hou en dat my admirasie vir hulle eksponensieel gegroei na daardie noodlottige dag toe die papier klaar geraak het. Maar om aan die hele wêreld, of ten minste jou Facebook-wêreld, te verkondig dat jy die “triple ply, extra soft and fluffy, will not scratch or chafe, lightly fragranced for your enjoyment” toilet papier “like”? Ek dink nie so nie, daar is net sekere goed wat mens nie op Facebook sit nie. 

(natuurlik is dit ‘n totale ander storie om dit op my blog te publiseer…)


2012-01-28 - Update: Ek het nooit verder gekom om te gaan kyk na hulle Facebook of Twitter blaaie nie, maar my mede blogger Michael Gorey het - gaan lees gerus sy uitstekende blog van Toilet paper on Twitter and Facebook.



3 comments:

  1. Ja-nee. Ek is ook 'n "converted" facebooker en glo ook dat sekere goed maar liewer nie gepubliseer moet word nie. Veral nie toilet en slaapkamer gesprekke nie :-)

    ReplyDelete
  2. Dis beter om minder vriende op Facebook te hê en ten minste hulle REGTIG te ken! Baie mense versamel vriende op FB soos skulpies op 'n strand en dan ken hulle meeste nie van adamskant af nie.

    Dis lekker om te Facebook, veral as men familie en vriende in anderland het :-)

    ReplyDelete
  3. Ek geniet fb, juis omdat ek die mense persoonlik ken.

    ReplyDelete