Tuesday, 11 September 2012

Spinnekoppe, stof en splinters...

Dis nou al ‘n hele paar maande sedert ek laas hier kom skryf het. Daar is ‘n paar redes hiervoor; Soos julle seker al agter gekom het, het ek ‘n paar maande gelede uiteindelik my ander belangstelling in ‘n stokperdjie omskep, naamlik fotografie, en daardie blog steel maar die meeste van my tyd op die trein terug huis toe vanaf die werk. Die ander ding natuurlik is dat ons nou al amper vyf jaar “down under” is en die lewe het maar ‘n manier om enigiets wat nuut en opwindend is te verander in die alledaagse en vervelige roetine. Wanneer daar dan wel ‘n storie is om te vertel is dit afhanklik van die teenwoordigheid van daai liewe inspirasie. Ek het so rukkie terug vir my sussie vertel dat inspirasie baie is soos om toilet toe te gaan - soms druk jy en druk jy en niks gebeur nie, ander kere is dit soos gietergriep en moet jy net hardloop en begin skryf of dis te laat en alles is verlore. Nou ja, voor ek te veel uitbrei op daardie ontstellende gedagte, hier is die volgende storie in die Möllers se lewens “Down Under”… 


So wat doen mens op 'n Saterdag in Melbourne as jy kinders het? Ek sal my kinders vir niks in die wêreld verruil nie, maar niemand het gesê dit sal maklik wees om hulle groot en aanvaarbaar vir die samelewing te kry nie! Die Minister van Finansies en Huishoudelike Sake was weg na een of ander vrouekonferensie en ek doen die vaderlike ding en pas kinders op. Op hierdie besondere dag in Melbourne (wat vir ewig in my geheue vasgebrand sal wees) het dit gereën, maar dit het ongelukkig nie beteken dat die spruite minder energie gehad het nie. Nee in teendeel, ek dink daar is ‘n sterk verband tussen die mate van hulle daaglikse energie kwota en die weersomstandighede. Hoe meer koue of reën daar is, hoe meer energie. Wanneer die weer van so aard is dat daardie pragtige en borrelende karaktertjies binne moet speel lyk die energiemeter soos die rev-counter van ‘n Ford XR6 in Brakpan*. Die feit dat pappa hard gewerk het die week en hunker na ‘n klein bietjie stilte voor die kassie met ‘n biertjie in die hand speel blykbaar nie ‘n rol nie. Nee, in die Möller-huishouding het dinge maar bietjie rof gegaan op daardie Saterdag. 

Op daardie stadium was ons nog nie lank in Melbourne nie en ek het gereeld nog nare drome gehad van die dag in die verhuringsagent se kantoor waar ek, met bietjie huiwering en met ‘n lip wat effens bewe, ‘n deposito tjekkie oorhandig het, sou daar net dalk skade wees aan die huis die dag wat ons daar uit trek. So sê ek toe vir Herman om eerder in die gang te speel waar die bal nie skade kan aanrig wat my tjekkie in gedrang sou bring nie. Nooit gedink aan die ligte nie. Hy ook nie. Die bal wel. Ek het nog rustig gesit en luister na die strelende geluide van kinders en balle, toe dit skielik stil raak. Nou praat ek nie van daai rustige stilte waar jy op jou piekniek kombers onder die bome lê en ‘n uitjie knip nie. Nee, ek praat van daardie onheilspellende stilte – die kinders is stil, die wind hou op met waai, jy hoor geen voëltjie se sang meer nie en die hond sluip met plat ore ongemerk in sy hok in vir skuiling. Volgende hoor ek toe net ‘n kreet van agter die gangdeur “Pappaaa!…” in ‘n stemtoon wat boekdele praat. Met ‘n naarheid in my binneste wat ek laas gevoel het toe spietkop se kind my gestop het, stap ek gang toe. 

Daar word ek toe gekonfronteer met ‘n lig wat so skuins hang soos ‘n lig net kan hang wat aan een skroefie vasklou vir lewe of dood, en dreig om enige oomblik vir boetie ‘n praktiese les van Newton se Wet van Gravitasie te gee. Pappa dink natuurlik net aan sy bankbalans wat dreig om net so vinnig te val soos die lig. Kleinsus kyk net met groot oë na die hele affêre. 

Die gang word toe dadelik ontruim van alle kinders en balle en ‘n leer word gehaal, wat ek toe bestyg met skroewedraaier en skroef om te probeer red wat te redde was, maar daar was geen manier nie. Daar waar die lig eers vas was het die vorige ou sowat twee en dertig ander gate al probeer, met die gevolg dat die plafon net een groot mush was, en daar waar dit nie mush was nie, was gat. Waar in jou lewe kon jy nou 'n lig vasdraai in daardie gemors en hoop dit bly sit? Toe klim ek maar van die leer af en skuif oor na die mangat (na 'n groot soektog deur die huis) om in die dak te kom om te sien wat daar bo aangaan. Die kindertjies het om my gekoek met groot afwagting op die gesiggies en groter oë wat gesê het "Dis mos nou cool!". Maar om in ‘n dak rond te kruip het ek nog nooit gesien op daai lysie getitel "Things to do before you die" nie, eerder "Things to avoid or else you die". Wie weet watse boosheid daar skuil in afwagting van ‘n sappige vinger of oor? 

Kort voor lank bevind ek myself toe diep in 'n donker duisternis tussen spinnekoppe en stof en daai insolasie-goed wat jou so laat jeuk en balke wat presies so hoog is soos die gemiddelde man se kop. Met die flits in die mond en ogies wat wild en wakker soek vir alles wat kan byt maak ek stadig my weg na die probleem area. Daar sit ek toe en wonner so by myself, "Nou WAT NOU?!?", want al wat ek dáár sien is die ander kant van die mush en die gat. Maar kort voor lank tref 'n stukkie inspirasie my en ek sien die lig, figuurlik gesproke natuurlik: Vat een standaard spyker, buig dit soos 'n haak, druk dit van onder deur die lig se skroef gaatjie sodat die spyker se kop die lig sou vashou, en die hak gedeelte van die spyker bo in die plafon gaan draai. Span dan 'n stuk draad van die spyker tot by die eerste beste balk en siedaar!

Na die plan uitgedink was moes dit tot uitvoering kom. So kruip die dakbewoner toe weer terug met flits in die bek en hande vol splinters oor balke en spinnekoppe en goed tot by die gat en by die leer af. Terug met die leer tot onder die lig om stap een van die plan uit te voer. Na daardie delikate operasie voltooi was trek ek toe weer terug na die mangat met leer en draad en tang en kinders, en klouter toe weer op met flitsie wat al dowwer begin skyn (net soos my wil om te lewe), kruip toe tussen die spinnekoppe en balke en stof en jeuk-goed en span die draad! Voilá! Met 'n glimlag van oorwinning wat my ‘n goeie Colgate advertensie kandidaat sou maak skree ek toe van daar bo af vir die kinders hulle moet sê hoe dit lyk. “Nog dieselfde!” kom die antwoord. “Kan nie wees nie!” mompel ek vir myself. "Kyk weer!" sê ek. “Dieselfde!” sê hulle. “Wag ek kom kyk” sê ek toe so al brommende en strompel toe weer terug deur die obstruksies in die dak en sorg toe in die proses amper vir ‘n groter gat in die plafon en groter opwinding vir die kinders. Tussen pype en elektriese drade en spinnerakke en alles wat ongemaklik lyk, deur die mangat, by die leer af, verby die groot-oog kinders wat hulle vuil pa aangaap met oop monde, en terug in die gang om die affêre te beloer. 

Met al my gepeuter daar aan die een kant van die lig het die ander kant toe besluit dis tyd om uit te moe... uhm, val. My waterige ogies bevestig toe wat die kleingoed vir my gesê het, die lig hang nou net na die ander kant toe. Weer stap ek toe terug garage vir nog 'n spyker en swets so bietjie hier in my binneste ek terwyl ek die tweede spykertjie buig. So is ek toe terug met die leer na die gang om die tweede kant aan te spreek, en skuif die leer toe weer terug na die mangat om die grillerige deel van die oefening weereens uit te voer - op met die leer, deur die mangat en verdwyn in die swart grot van skuilende ellende. Nou begin dit al amper so draf-draf gaan daar bo in die dak. Ek gee ook nie meer om vir al die splinters nie en spinnekop se kind moet maar byt as hy wil byt - ek wil net klaarkry! Dit word al 'n goed-geoefende ritme van buig-ruggie-krom, lang-trap-tot-volgende-balk, skuif-gewig-oor, kom-halfpad-regop, kreun, stamp-kop, gesels-met-self, herhaal. Uiteindelik kom ek tot by die lig en span die tweede stuk draad. Julle het mos al gehoor van suspensie brûe? Wel Melbourne het nou sy eerste suspensie-ganglig! En so met hammer en tang en vice grip en rol draad en flits en spaar spykers en sowat dertien splinters in my hande en jeuk-goed oor die res van my lyf en wie weet hoeveel spinnekoppe wat saamry, maak ek my verskyning by die swart gat van ellende en met ‘n semi-gekontroleerde val maak ek dit by die leer af. Weer sleep ons terug gang toe want nou moet daar ‘n nuwe gloeilampie ingesit word. 

Op daardie Saterdag in Melbourne het ander ouens rugby gekyk of ‘n vleisie gebraai, ek het rond gespring tussen gang en plafon soos 'n mak bobbejaan. Maar laat ek nou vir julle iets vertel, ‘n stewiger lig sal jy nie sommer kry nie en die deposito is darem nog veilig, vir nou... 

* As jy dalk in Brakpan bly, ek het eintlik bedoel Nigel.

2 comments:

  1. Ha! Maar tot jou verdediging, 'n lig is veronderstel om teen 'n dwarsbalk van die dak 'gemount' te wees. Maar nou ja, soms het mens 'n goeie spyker nodig om dinge bo te hou...

    ReplyDelete
  2. It is a great pleasure going through your site because I love your every post. That's why I have bookmarked your site to check out new stuff from you. Thanks for sharing ...

    ReplyDelete