Saturday 24 December 2011

Dinge wat my pla hierdie Kersfees

Dis amper Kersfees en dit gons in die Möller-huis. Die kombuis word geskrop en beskuit en melktert word gebak, huis word skoongemaak en kar word gewas, garage word gevee en gras word gesny want die plek moet reg en die tyd raak min. So besluit ek toe laatmiddag dat ek gou die agterplaas se gras moet sny voor die son sak. Dit bring my toe by 'n paar goed wat vir my nogal erg is.

Nie die kar was of gras sny nie, dit doen mens maar wanneer dit nodig is sonder om te veel te kla. Nee, een van die goed wat nogal erg is vir my, is as jy deur so dik taai spinnerak loop terwyl jy gras sny. Dan klap jy soos 'n besetene rond na alles wat soos spinnekop voel, en na die tyd hoop jy dis net die hond wat jou gesien het. Dis nogal erg. 

Iets anders wat baie erg is, is as jy met die grassnyer oor daardie versteekte honnebol ry. Dis gewoonlik so slappe wat nog stoom en glo my dit vrot! Daars min dinge wat so erg is, en dan sit dit nog so aan die agterwiel vas en herinner jou met elke draai wat die wiel maak. Maar genoeg oor honnebolle want ek skryf eintlik oor Kersfees en dit pas glad nie by Kersfees nie. 

Maar daar is nog iets anders wat vir my baie erg is, iets wat ook nie by Kersfees pas nie, en dit is die gedagte dat my mense so ver van my is. Hierdie sal die vyfde Kersfees wees wat ons gesin in Australië vier, sonder ons sussies en pa's en ma's en skoonpa's en skoonma's. Vir ‘n beter pa en ma kon ek nie vra nie. Ek en skoonpa kuier altyd lekker en het ek nou maar 'n goor skoonma gehad dan was dit dalk makliker om ver weg van haar te wees, maar ek het seker die beste skoonma gekry wie mens voor kan wens, so dis nogal erg. Ek is geseënd met altesaam ses sussies en skoonsussies, en as ons eers begin kuier is daar nie einde nie. En dan is daar natuurlik my liewe oupa en ouma vir wie ons so lief is! 

Ons mis hulle altyd, maar dis veral oor Kerstyd wat ek al my mense baie mis, die samesyn en gelag en natuurlik al die presente ook. Hierdie Kersfees beloof om ‘n goeie een te wees, maar daar sal maar altyd daardie leemte wees wat slegs gevul kan word met die mense wie vir jou belangrik is. So aan my mense, wanneer julle hierdie lees (julle beter my blogs lees, anders is daar moeilikheid!), weet dat ons baie na julle verlang en dat die grootste geskenk sou wees as ons Kersfees saam met julle kon vier. Weet dat ons baie lief is vir julle en uitsien na die dag wat ons julle weer gaan sien.

Maar wag, voor ek te nostalgies raak sal ek maar eerder afsluit. Mag julle en al my ander lesers ‘n baie geseënde Kersfees beleef. Tot volgende jaar...

Kersfees in die Möller-huis


6 comments:

  1. Het DADELIK gelees. Soek nie moelikgeit nie.
    Dankie. Die dag van 'weersiens' kom gewis.

    ReplyDelete
  2. Ja, Kersfees wil jy graag saam met jou familie wees. Een jaar het ons by die familie in Wes-Australië gekuier. Hulle het 'n fantastiese gebruik. Ou-Kersaand kom al die Suid-Afrikaners en Zimbabwe-ers (?) wat daar woon bymekaar en hou heerlik saam Kersfees. Soos een groot familie. Dit stil darem die hartseer op 'n manier...

    ReplyDelete
  3. Ek moet vir jou sê, ek sou dit nie kon doen nie. Ek kon nie eens 'n jaar in Worcester bly voordat my hart na die Vrystaat begin verlang het en ons eventueel teruggetrek het nie. Maar julle is seker die nuwe pioniers, soos baie mense destyds Amerika toe is uit Europa. Voorspoedige nuwejaar!

    ReplyDelete
  4. Hi ek hoop julle het 'n bakgat kersfees gehad.

    ReplyDelete
  5. Dankie Murphy & Olga, ten spyte van die verlange het ons 'n baie lekker Kersfees gehad. Vertrou dat julle ook 'n geseënde Kersfees gehad het met te veel kos en presente, en dat julle 'n wonderlike 2012 sal beleef. :)

    ReplyDelete
  6. MollersStillUpTop (cool naam :) ) Ons wag vir daardie dag!

    ReplyDelete