Sunday 4 March 2012

Ontmoet vir Koda

Ek het onlangs nog ‘n Facebook “gesprek” met my sussie gehad, sy bly iewers op ‘n plaas in Mpumalanga. Volgens Google Maps is ons presies 11535.39 km ver uit mekaar, soos die kraai sou vlieg (sou 'n pretty damn impressive kraai moet wees!). Dus is dit nie moontlik vir ons om sommer gou oor en weer te kuier nie so probeer ons maar om via Facebook op te vang met die nuus. Hierdie laaste keer vra sy my toe hoe dit gaan met ons, of meer spesifiek met my, met die Minister van Finansies en Huishoudelike Sake en ook ons spruite. Ek het die nodige verslag aan haar verskaf, maar besef toe dat sy nooit oor Koda, die vier-voetige lid van die gesin, se welsyn uitgevra het nie. Dit was vir my ‘n saak van kommer. Ek het dadelik besef dat ek die sakie daar en dan sou moes aanspreek alvorens dit ‘n tendens begin raak, en het toe met streng beslistheid opgetree, dog met liefde. 




Ek sal erken dit was nie vir my maklik nie. Ek praat nou nie van my optrede om haar blatante nalatigheid aan te spreek nie, nee ‘n man doen maar wat ‘n man moet doen. Wat moeilik was, was die feit dat ‘n lid van jou gesin so blatant uitgelaat word. Daar is maar baie emosies wat dan deur ‘n mens woel as so iets gebeur. Ek het dit eers probeer ontken, en later voel ek diep geskok. Dit was toe gevolg deur hartseer gebrokenheid, daarna word ek toe kwaad, en toe is daar net stille aanvaarding. Ek troos my daaraan dat ek die saak aangespreek het en glo dat dit nie weer sal gebeur nie. Dis met daardie gedagte dat ek tot die besef gekom het dat julle, my gereelde lesers, nog nooit ‘n formele kennismaking met Koda gehad het nie (behalwe miskien ‘n vlugtige ontmoeting in my Australian Corporate Games blog inskrywing). Dit sal dus niks minder as reg wees nie, dat ek hom nou aan julle bekend stel. Hierdie blog gaan immers oor ons lewens hier in Australië en Koda maak deel uit daarvan. 

Koda het in ons lewens gekom kort na ons Queensland toe getrek het. Ons het die troeteldier ding in Melbourne probeer in die vorm van goudvissies en budgies, maar kom ons sê maar net dinge het nie so lekker uitgewerk vir hulle nie. Na ek en die Minister van Finansies en Huishoudelike Sake die sakie in detail bespreek het, belowe ons toe die spuite dat ons ‘n brak sal kry sodra ons op die Gold Coast gevestig is, tot groot opgewondenheid van die kroos. As dit by honde kom is ek nie te veel gepla nie. Daar is egter twee kriteria waaraan die brak sou mos voldoen, naamlik: 
een: Hy/sy moet ‘n hond wees:
Daar is baie diere wat foutiewelik as ‘honde’ geklassifiseer word, soos Poedels, Shih Tzu’s en Worsies. Hulle tel nie. Hulle blaf dalk – in die geval van Worsies, heeltemal te veel – en hulle het almal miskien sterte, maar moenie deur hierdie fasade geflous word nie. Nee wag, voor julle nou almal op my spring met lasterlike opmerkings, ek sê vir geen oomblik dat hierdie wolle bolletjies nie oulik is nie, hulle is (behalwe die worsies natuurlik). My beskeie opinie is net dat hulle nie as ‘honde’ geklassifiseer kan word nie. Nee, ‘n regte hond is iets soos ‘n Alsatian of ‘n Labrador. Niks kleiner nie. Daar is egter een uitsondering, naamlik ‘n Jack Russel.

twee: Hy/sy moet nie die bankrekening ‘n groter beroerte gee as was reeds ondervind was met die trek Queensland toe nie:
Hierdie punt elimineer toe outomaties alle opregte honde, telers en troeteldierwinkels. Die opsie wat dus oorgebly het, was om ‘n draai te gaan maak by die Animal Welfare League om ‘n brakkie aan te neem wat ‘n huis soek. Min het ek geweet dat die begroting in elk geval sou hoes, want dis hok en kos en mat en waterbak en kosbak en inspuitings en stadsraad liksens en leiband en borsel en anti-wurm goeters en anti-vlooi goeters en nog wat. Maar ek kon mos nie nou op die 11de uur terug gaan op my belofte nie. Kan jy jou nou indink as ek vir daai stralende gesiggies moes sê hulle hond is nou nie meer hulle hond nie. O wee, ek sou dit nie maak nie! Dis in my natuur om moeilikheid te vermy, maar as ek nou in die moeilikheid gaan wees, probeer ek maar altyd dinge so uitwerk dat dit óf by hulle, óf by die Minster is. Nooit beide nie. As ek daardie dag nee gesê het sou ek alleen gestaan het in my hoekie. So toe haal ek maar die kredietkaartjie uit want plastiek is mos geduldig. 

By die Animal Welfare League aangekom ontmoet ons toe ‘n Collie genaamd Honey. Sy lyk nes Lassie met lang goue hare en die skerp gesiggie. Die Minister het baie van haar gehou, ek het so effe teesinnig ingestem want, kom ons wees maar eerlik, Lassie is ‘n grensgeval as dit kom by die vraag van hond wees of nie hond wees nie. Die besluit word toe gelukkig vir ons gemaak. Sy het kennel cough opgedoen en moes ‘n week of drie in kwarantyn deurbring. Dis toe dat hulle ons aan Rex voorstel. Ons het baie gehou van die brak, maar sy naam moes verander. Jy noem mos nie jou hond “Rex” nie. Na vele voorstelle, in diepte besprekings, ernstige debatvoering en rondtes van eliminasie word Rex toe in ‘n roerende seremonie herdoop na “Koda”. 

Koda is ‘n Australian Kelpie, ‘n baie wakker en slim ras wat hier op die plase gebruik word as herdershonde, en defnitief 'n regte hond! Dis dieselfde tipe brak wat onlangs in die fliek Red Dog gespeel het, Koda is net ‘n swarter weergawe. ‘n Beter hond kon ons nie voor gevra het nie. Wanneer ek met hom speel, speel hy hard, maar met die korter mensies speel hy rustig. Hy  is ook 'n baie soet brak. Ongeag van hoe lekker sy kos ruik, sal hy nie begin eet voor ek nie sê hy kan nie. Hy lek wel sy lippe met oorgawe terwyl hy stip na sy kosbak staar. 

Koda soek altyd aandag net waar hy dit kan kry. As ek vir hom vra “Waar is jou been?” dan spring hy op en soek die werf deur en kom dan uiteindelik terug met so ‘n groot oranje plastiek been in sy bek met ogies wat blink en ‘n stert wat waai want oubaas gaan mos nou vir hom sy been gooi. Al wat beter as been-gooi is, is om te gaan stap. En as hy nou lekker moeg en warm gespeel of gestap is, dan spring hy in sy swembad om bietjie af te koel.

Ons kan almal ‘n lessie of twee leer by hom – hy is altyd bly om ons te sien, en ek bedoel ALTYD! Hy is uitbundig opgewonde oor die geringste en gaan haal altyd sy been, maak nie saak of dit nou warm of koud, vroeg of laat is nie, en of hy moeg of uitgerus is nie. As daar nou een is wat met oorgawe leef is dit Koda! Veral as daar dalk ‘n verdwaalde voëltjie of kat op die werf dwaal, dan is dit oorgawe plus nog meer! 

So my liewe lesers, ontmoet vir Koda:

Koef af tydens ons stappie om die dam

Reg vir aksie om sy been te gaan haal
Al sy konsentrasie is op een punt gevestig...


Kat? Het jy gesê Kat? Waar?


Die lekkerste is om onder die water borrels deur sy neus te blaas.

2 comments:

  1. "Daar is egter twee kriteria waaraan die brak sou mos voldoen..."

    Stem 110% saam!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Daar is baie goed wat ek glo, wat ander mense nie noodwendig mee saam stem nie, maar ek weet hulle is verkeerd. Jy sal egter saam stem met alles want, soos ek, is jy ook altyd reg.

      Delete